LiveZilla Live Help
www.privateprojects.co.za
R100 mjd. geploeg in kragplanne - 2010/07/27
News Article: 5885 has been read 179 times.
Johannesburg. - Eskom het reeds sedert 2005 R98,9 miljard aan sy kapitaaluitbreidingsprogram bestee en verwag om tussen vanjaar en 2013 nóg R331 miljard te bestee.

Mnr. Paul O’Flaherty, finan siële hoof, sê Eskom sal binne twee weke sy finale finansieringsplan vir die Eskom-bouprogram voltooi.

Dié finansieringsplan stippel presies uit hoe en waar Eskom beplan om geld te kry om al sy kapitaalprojekte oor die volgende drie jaar te finansier.

Eskom het in April gesê die plan sou teen Junie voltooi wees. Die maatskappy het toe gesê hy sit met ’n finansieringstekort van R45 miljard.

O’Flaherty het gister erken die plan is nog nie klaar nie, maar sê die goeie nuus is dat Eskom werkbare oplossings het.

“Ons het die laaste paar weke hard gewerk saam met die departement van openbare ondernemings en van energie asook met die nasionale tesourie om die finale mandjie oplossings te finaliseer. Ek is bly om te kan sê dat die onderskeie ministers verbind is tot die finalisering van die proses. Ons sal die finale proses – die goedkeuring van die besluite wat geneem is – dié week en volgende week afhandel.”

O’Flaherty sê sodra dié goedkeuring verkry is, sal die maatskappy die finale finansieringsplan bekend maak.

Die maatskappy se grootste drie projekte wat aan die gang is, sluit in twee steenkoolkragsentrales, Medupi in Lephalale (Ellisras) en Kusile, naby Delmas in Mpumalanga. Die derde projek is Ingula, ’n hidrokragprojek in die Drakensberg.

“Dit totale finale geskatte koste van dié drie projekte is nagenoeg R287 miljard. Dit is R125 miljard vir Medupi, R141 miljard vir Kusile en R21 miljard vir Ingula.”

“Dié projekte verteenwoordig die grootste deel van die R98,9 miljard wat reeds bestee is. Dié bedrag sluit natuurlik ook rente in wat gekapitaliseer is.”

O’Flaherty wou nie meer besonderhede oor die plan bekend maak nie.

James-Brent Styan

Source: Sake24 Date: 2010/07/27
Print Article | Previous Page | Home Page | Leads 2 Business | Projects